Ian Robert Astbury (gebore 14 Mei 1962) is ’n Britse rocksanger, veral bekend as die hoofsanger, frontman en ’n stigterslid van The Cult.

Hy is in Heswall, naby Liverpool, gebore en het in 1973 saam met sy familie na Hamilton, Kanada, verhuis toe hy 11 jaar oud was. In 1979, terwyl hy in Glasgow, Skotland, gewoon het, is Astbury beïnvloed deur The End van The Doors, wat hy gehoor het terwyl hy na die rolprent Apocalypse Now gekyk het. Hy het dit later as “’n godsdienstige ervaring” beskryf.

In 1980 was Astbury in Liverpool, waar hy aktief was in die punk-toneel rondom die musikklub Eric’s Club. Hy het laat in 1980 na Bradford verhuis, en teen 1981 het hy gehelp om die post-punkgroep Southern Death Cult te stig, wat tot Maart 1983 bestaan het. Saam met kitaarspeler Billy Duffy, baskitaarspeler Jamie Stewart en tromspeler Raymond Taylor Smith het Astbury ’n nuwe groep, Death Cult, gevorm en die uitgebreide spelplaat (EP) Death Cult uitgereik. Om hul aantrekkingskrag te verbreed, het die groep sy naam in Januarie 1984 na “the Cult” verander voordat hulle op die Channel 4-televisieprogram The Tube verskyn het.

The Cult se debuutateljee-album, Dreamtime, is in 1984 uitgereik, gevolg deur Love in 1985. Love het die enkelsnit She Sells Sanctuary bevat, wat die groep aan ’n internasionale gehoor bekendgestel het. Baie liedjies op hierdie vroeë albums fokus op Inheemse Amerikaanse temas, ’n ’n besondere belangstelling van Astbury ná sy jeug in Kanada. Op hul derde ateljee-album, Electric, het The Cult met die hulp van die vervaardiger Rick Rubin ’n transformasie na ’n hardrock-klank gemaak.

Ná die vrystelling van die 1989-ateljee-album Sonic Temple en die enkelsnit Fire Woman het Astbury na Los Angeles, VSA verhuis.

Tydens verskeie onderbrekings van The Cult was Astbury in 1996 die frontman van die kortstondige groep Holy Barbarians, en later van 2002 tot 2007 die hoofsanger van Doors of the 21st Century, ’n huldeblykband aan The Doors wat ook oorspronklike Doors-lede Ray Manzarek en Robby Krieger ingesluit het. Hy het gasvokale op verskeie opnames deur ander kunstenaars bygedra. Oliver Stone wou aanvanklik hê dat Ian Astbury Jim Morrison in die rolprent The Doors moes vertolk, maar hy het die rol van die hand gewys omdat hy nie tevrede was met die wyse waarop Morrison in die film uitgebeeld sou word nie.

Verwysings

Eksterne skakels

Ian Astbury diskografie

Kategorie:Geboortes in 1962 Kategorie:Lewende mense Kategorie:Engelse sangers