Gustaf Pienaar (gebore Brits, 13 Maart 1949) is ’n Suid-Afrikaanse skrywer, omroeper, regsgeleerde en handtekeningversamelaar.

Nadat hy die graad B.Iuris verwerf het, het hy drie maande by die department van justisie in Johannesburg gewerk, maar toe by die SAUK aangesluit as junior omroeper/regisseur by die Afrikaans radiodiens. Ná ’n loopbaan van elf jaar by die openbare uitsaaier (in die laaste jare as bestuurder van uitsaainavorsing) het hy hom as prokureur bekwaam en 27 jaar lank in daardie hoedanigheid in George gepraktiseer. Hy is in 2012 as advokaat van die hooggeregshof toegelaat.

Herkoms en skoolopleiding Charl Gustaf Pienaar se ouers, Attie en Charlotte, het onderwys gegee aan die Hoërskool Brits. Hulle was albei lief vir musiek en het hom aangemoedig om klavierlesse te neem. Hy speel klavier en 'n bietjie (kerk)orrel, en kan - tot sy vreugde, en danksy onderrig in musiekteorie - orkespartiture lees. Sy ouboet, ds. Jan Lion-Cachet Pienaar, was NG predikant van Umtali (1975–1978), Boksburg-Oos (1978–1983), Villieria (1983–1985) en Skuilkrans-Pretoria (1985–1988).

Pienaar het sy skoolloopbaan deurloop aan die Laerskool Brits en die Heidelbergse Hoër Volkskool. Sy ouers wou nie vir hulle seuns skoolhou nie, en het hulle dus na die Heidelbergse kosskool gestuur. Dit het dit vir Pienaar moontlik gemaak om in sy matriekjaar leiersposisies in die skool sowel as die koshuis te beklee, wat sy ouers syns insiens nie op Brits sou toegelaat het nie.

Naskoolse opleiding Ná sy verpligte militêre opleiding van ’n jaar (1967) aan die Leërgimnasium op die destydse Voortrekkerhoogte, het hy in Johannesburg in die stigtingsjaar van die Randse Afrikaans Universiteit (RAU), 1968, in die regte begin studeer.

In 1967 het die departement van justisie die sogenaamde B.Iuris-graadopsie ingestel: ’n Student kon op staatskoste aan ’n paar universiteite vir dié graad studeer, op voorwaarde dat hy daarna minstens vier jaar as aanklaer vir die departement gewerk het. Al was sy matriekuitslae nie besonder goed nie, het hy toelating gekry tot sy voorkeur-universiteit, RAU, wat in 1968 sy eerste studente ingeneem het.

As eerstejaars aan ’n nuwe universiteit moes hulle ’n studentegemeenskap in Johannesburg aan die gang kry: Studenteraad, sport- en kulturele klubs, ’n eie jool, koshuise. Pienaar het dadelik betrokke geraak by die stigting van die studentekoerant, HeRAUt, waarvan hy in 1969 en 1970 redakteur was.

In 1971 is hy verkies tot studenteraadsvoorsitter. As studenteleier het hy die toe nog jeugdige RAU-rektor, prof. Gerrit Viljoen, goed leer ken. Hulle het gereeld laatmiddae vir gesprekke ontmoet. Viljoen was in baie opsigte vir hom 'n mentor. Sy deelname aan die onstuimige studentepolitek van daardie jare het hom tot die oortuiging gebring dat hy nie vir 'n politieke loopbaan uitgeknip was nie.

In die jaar wat Pienaar SR-voorsitter was, het ’n omroeper van die Afrikaanse radiodiens, Hennie Human, ’n reeks radiodebatte tussen die studenteleiers van die Afrikaanse universiteite aangebied, wat hy Studenteparlement genoem het. Pienaar het die RAU telkens verteenwoordig. Die Johannesburgse opnames is gemaak in die SAUK se uitsaaisentrum in Commissionerstraat. Ná een daarvan het Human gevra of hy daarin sou belangstel om 'n omroeper te word. Pienaar het hom vertel van sy beursverpligtinge, waarop Human geantwoord het dat die SAUK dit bes moontlik sou kon oorneem.

Loopbaan as omroeper duimnael|links|Pienaar is op 9 Desember 1972 met Corlina Grobbelaar getroud. In 1972 het Pienaar begin as aanklaer in die reusagtige landdroskantoor in Foxstraat, Johannesburg. Omdat hy onbevredig in dié werk was, het hy Human ná drie maande genader om te verneem of sy aanbod nog staan. Human het gereël dat hy die streng omroeperstoets aflê, wat hy geslaag het. Die SAUK het met die departement van justisie ’n ooreenkoms bereik en op 1 Junie 1972 het hy as junior omroeper/regisseur van die Afrikaanse radiodiens in Commissionerstraat begin werk, wat hy jare later sou beskryf as “louter vreugde”.

Nadat hy in Desember 1972 met 'n jeugliefde, Corlina Grobbelaar, getroud is, is die Afrikaanse radio se verteenwoordiger in Port Elizabeth, Clarence Keyter, in die eerste helfte van 1973 na Bloemfontein verplaas. Die omroepers in Johannesburg was almal bang een van hulle word na die Baai verplaas, maar Pienaar het goeie herinneringe aan vakansies kleintyd in dié stad gehad. Na ’n kort gesprek met sy vrou het hy die hoof van die Afrikaanse radio, Morkel van Tonder, gevra om Keyter op te volg, welke versoek toegestaan is.

Vanuit Port Elizabeth kon hy die hele Oos-Kaap goed leer ken. Hy was waarskynlik verantwoordelik vir die eerste program onder die opskrif Rekenskap wat ooit oor die Afrikaanse radiodiens uitgesaai is waarin in diepte gesels is met 'n swart man: kapt. (later brig.) Rodney Keshwa, van die Transkeise gevangenisdiens, wat Afrikaans vlot kon praat. Dit het uitgeloop op 'n paar verdere radiogesprekke met swart mense onder die titel Wat sê die mense in die swart tuislande?

Pienaar en Audrey Ryan het ook twee keer per week vir ekstra inkomste programwerk vir Radio Goeie Hoop gedoen, sy eerste kennismaking met ’n handelsradiostasie. Die SAUK het kort voor lank ’n nuwe eerstewêreldse ateljeekompleks in Parsons Hill betrek. Pienaar is op jeugdige ouderdom aangestel as programorganiseerder vir die Afrikaanse en Engelse radiodienste in die Oos-Kaap. Spoedig is Bennie Howard en Fonnie du Plooy as Oos-Kaapse omroepers aangestel, wat in voortreflike radiomanne ontluik het.

Pienaar het tussen Augustus en Desember 1976 'n reeks weeklikse aandhoorbeelde onder die opskrif Op pad na 2000 behartig. Dit was 'n reeks waarin gekyk is na die land se prioriteite vir die laaste ongeveer 25 jaar van die vorige eeu. In die twintig programme is onderwerpe soos die stand van die blanke politiek, die tuislandbeleid, die swart mense in stedelike gebiede, die lot van bruin mense, die land se water- en engergieprioriteite, die onderwys, verstedeliking, omgewingsbewaring en dies meer onder die loep geneem. Vooraanstaande Afrikaanse intelligentsia soos Viljoen, dr. Wimpie de Klerk, proff. Willie Esterhuyse en Pieter de Lange, Piet Cillié, prof. Richard van der Ross, dr. Ampie Roux het daaraan deelgeneem.

Terug in Johannesburg In Januarie 1978 is Pienaar aangestel as die Afrikaanse radiodiens se organiseerder van jeug- en tydskrifprogamme in die nuwe uitsaaikompleks in Auckland Park, waar hy en sy vrou twee jaar later ’n woonhuis ’n hanetree van sy werk af gebou het, op ’n erf wat hulle by Roelf Meyer gekoop het.

Naas aktualiteitsprogramme het hy vreugde geput uit Hoe verklaar u dit?, ’n weeklikse vraeprogram oor die natuurwetenskap waarmee hy in Januarie 1979 begin het. Terwyl hy besig was om deelnemers vir die nuwe program te werf, het die WNNR hom genooi om Marioneiland te besoek – en wel in September 1978. Dit het uitgeloop op ’n hoorbeeld oor dié eiland en die weerspan wat toe daar gestasioneer was. Hulle het daarheen gereis met die SA Agulhas 1, wat toe splinternuut was en maar op sy derde vaart suid was.

In die winter van 1978 het hy Rhodesië besoek – wat toe in ’n burgeroorlog gewikkel was – vir ’n uur lange hoorbeeld oor die plaaslike Afrikaners. Die volgende jaar was ook ’n hoogtepunt: Hy het in April weer na Rhodesië gereis vir ’n lang onderhoud met Ian Smith aan die vooraand van sy uittrede as Rhodesië se “rebellepremier”. Dit is opgevolg deur ’n uur lange hoorbeeld oor dié politikus.

In September 1979 het hy twee weke lank die jaarlikse Prix Italia-radio-en-televisiefees in Lecce in die suide van Italië bygewoon. Die destydse direkteur-generaal, dr. Jan Schutte, het hom genooi om as waarnemer saam te gaan met die SAUK se span beoordelaars: Schutte self; die hoof van musiek (Chris Swanepoel) en June Seymour, wat die hoof was van SAUK-televisie se oorklankingsdepartement.

Daarna is Pienaar saam met Schutte op ’n besoek aan die Israelse radio en televisie en, daarná, ook aan die Beierische Rundfunk in München. Op Schutte se aandrang is hy daarna op sy eie na Berlyn om te gaan kyk hoe lyk hul uitsaaimuseum; die SAUK wou ook een vestig. Hy is ook – via die berugte Checkpoint Charlie – op ’n dagbesoek na kommunistiese Oos-Duitsland (DDR). Pienaar se ses weke lange besoek aan Europa is afgesluit met ’n weeklange besoek aan Londen, waar hy kennisgemaak het met die BBC en heelwat tyd - in "opdrag" van dr. Schutte - in sy hotelkamer ingeruim het om BBC-TV te kyk.

Pienaar is in 1981 aangestel as die SAUK se besuurder van uitsaainavoring, wat gekoppel was aan die kantoor van die direkteur-generaal. In opdrag van die destydse DG, Steve de Villiers, het hy in 1982 'n ses weke lange besoek aan buitelandse radio-en televisiestasies in die VSA en Europa onderneem. Die oogmerk was om vriendskapsbetrekkinge tussen die SAUK en ander (dikwels vyandige) uitsaai-instansies te probeer vestig en om diepgaande navorsing te doen oor die volkeregtelike implikasies van geovastetelevisie-uitsendings, wat toe in 'n beginstadium was. Hy het ook die konsep van plaaslike radiostasies ondersoek in 'n tyd toe die SAUK nog 'n monopolie op landwye radio-uitsendings gehad het.

Hy het daar ook kennisgemaak met die eerste prototipe draagbare televisiekameras wat later 'n rewolusie in nuusdekking tot gevolg sou hê. In Washington is hy bekend gestel aan die internet wat toe nog slegs vir (hoofsaaklik) Amerikaanse militêre en akademiese gebruikers beskikbaar was. 'n Hoogtepunt van sy besoek aan Washington was 'n geleentheid om navorsing in die Kongresbiblioteek te doen en in die Withuis se East Room 'n bykans uur lange perskonferensie van president Ronald Reagan by te woon.

Loopbaan as regspraktisyn Tussendeur het Pienaar die LL.B.-graad (en later ook die LL.M.-graad) verwerf en toe, in Mei 1983, die uitdaging getrotseer om van uitsaaier na regspraktisyn oor te skakel. Met die teensinnige hulp van Steve de Villiers het ’n Johannesburgse prokureur, Billy van der Merwe, hom in die middel van 1983 aanvaar as ’n kandidaat-prokureur in die destydse vooraanstaande Afrikaanse prokureursfirma in Johannesburg, Hofmeyr Van der Merwe.

Dit was moeilike jare. Hy was die junior klerk in die firma – op 33 met ’n vrou en drie jong kinders. Hy het gou besef dat sy ervaring van elf jaar by die SAUK van geen betekenis was in 'n regsloopbaan nie. "Die reg erken net sy eie ondervinding," het 'n voormalige studentevriend van hom – wat toe al 'n direkteur by dieselfde firma was – gesê. Pienaar beskryf Van der Merwe as “seker die beste leermeester wat enige toekomstige prokureur kon begeer: Kort van draad – in die sin dat 'n mens nie met nonsens na hom toe moes kom nie; pynlik ingestel op detail; ’n omvattende kennis van die reg; ’n puik administrateur (hy was verskeie kere president van die SA Prokureursorde); ’n leermeester by uitnemendheid, en die toepasser van die hoogste etiese standaarde”.

In 1985 is hy as prokureur toegelaat, en daarna het die gesin die vryheid gehad om die grootstadslewe te verlaat. Hy is aangestel by die oudste prokureursfirma op George, Raubenheimers Ingelyf, waaraan hy ruim 25 jaar lank as direkteur – en later as konsultant – verbonde was. In 2008 het hy die aktiewe praktyk verlaat en het hulle permanent na Vleesbaai verhuis, waar hulle hul strandhuis reeds in 2003 gebou het.

Aftrede Pienaar het in 2012 die prokureursprofessie vaarwel toegeroep, waarna hy as advokaat van die hooggerregshof toegelaat is. Hy praktiseer egter nie, maar het wel al by ’n paar geleenthede pro amico-verskynings gedoen.

Skryfwerk