Mircea Lucescu (Roemeense uitspraak: [ˈmirtʃe̯a luˈtʃesku]; 29 Julie 1945 – 7 April 2026) was 'n Roemeense sokkerspeler en afrigter.
Lucescu was een van die suksesvolste spelers van die Roemeense liga-kampioenskap, nadat hy al sewe van sy titels met Dinamo București gewen het. Hy het ook vir Știința București en Corvinul Hunedoara gespeel, en het 64 wedstryde vir die Roemense nasionale span gemaak, wat hy by die Wêreldbekertoernooi van 1970 as kaptein gelei het.
Sy eerste aanstelling as afrigter was as spelende afrigter vir Corvinul Hunedoara. In November 1981 het hy oorgeneem as hoofafrigter van die Roemeense nasionale span en het hy die span na die Europese Kampioenskap in 1984 gelei. In November 1985 het hy die afrigting van Dinamo București oorgeneem, terwyl hy steeds vir die nasionale span gewerk het.
Ná die Roemeense Rewolusie van 1989 het Lucescu in Julie 1990 na Italië vertrek om by die Serie A-klub Pisa af te rig. Hy het daarna verskeie klubs in Italië en sy vaderland afgerig voordat hy as hoofafrigter van Galatasaray aangestel is, wat hy in 2002 na die Süper Lig-titel gelei het. Hy het daarna na die Instanboel-rivaal Beşiktaş oorgeskakel, wat hy die volgende jaar na die Süper Lig-titel gelei het.
In Mei 2004 het hy aan die mees bepalende fase van sy afrigloopbaan begin, as hoofafrigter van Sjachtar Donetsk in Oekraïne, wat hy na agt Oekraïense Premierliga-titels gelei het, sowel as verskeie ander beker-trofeë, insluitend die UEFA-beker in 2008/09.
Sy laaste aanstelling as afrigter was by die Roemeense nasionale span. Op 26 Maart 2026 is Roemenië uit die Wêreldbeker-kwalifisering uitgeskakel ná ’n 1–0 nederlaag teen Turkye in die uitspeel-halfeindstryd wat in Istanboel gespeel is. Hy is enkele dae later in die hospitaal opgeneem en is oorlede op 80-jarige ouderdom, nadat hy tot op die einde aktief in topvlak-sokker gebly het.
Hy is aangewys as Roemenië se Afrigter van die Jaar in 2004, 2010, 2012, 2014 en 2021, en Oekraïne se Afrigter van die Jaar in 2006 en tussen 2008 en 2014. In 2013 is hy bekroon met die Afrigter van die Dekade-toekenning in Roemenië, en in 2015 het hy die vyfde persoon geword wat 100 UEFA Champions League-wedstryde as afrigter gelei het, saam met Alex Ferguson, Carlo Ancelotti, Arsène Wenger en José Mourinho. Hy is ook derde in terme van amptelike trofeë wat gewen is, met 38.
Verwysings
Kategorie:Roemeense sokkerspelers Kategorie:Sokkerafrigters Kategorie:Geboortes in 1945 Kategorie:Sterftes in 2026