Anthonie Louw Bougas (Grieks: Μπουγάς [buˈɣas]; gebore 23 April 1992) is 'n Suid-Afrikaanse entrepreneur, sanger, televisie-aanbieder en die stigter van Kleuterzone, 'n netwerk van kleuterskole wat vroeë kinderonderwys aanbied. Hy het in 2007 bekendheid verwerf deur sy deelname aan die sangkompetisie Supersterre. Bougas het ook as aanbieder vir programme soos Kleuterzone, Sing in Harmonie, en Solis vir Christus gewerk en 'n klein rol in die sepie Villa Rosa gehad. As sanger het hy musiek vrygestel, met liedjies soos "My One and Only True Love" (Engels; "My enigste ware liefde") en "Ek is joune" beskikbaar op platforms soos Apple Music en Spotify.

Kleuterzone het in Februarie 2025 ineengestort te midde van bewerings dat die groep as 'n Ponzi-skema bedryf is. Bougas het Suid-Afrika kort daarna verlaat, Kleuterzone Operations (Edms.) Bpk. is in Mei 2025 finaal gelikwideer en Bougas is in sy private hoedanigheid gesekwestreer. Likwidateurs is sedertdien besig om sowat R400 miljoen se bates te probeer opspoor, terwyl die Valke, die polisie se eenheid vir prioriteitsmisdade, dertig sake teen die groep ondersoek.

Musiek- en televisieloopbaan Suid-Afrika het in 2007 die eerste keer met Bougas kennis gemaak toe hy aan Supersterre deelgeneem het. Hy het daarna as aanbieder van televisieprogramme soos Kleuterzone, Sing in Harmonie en Solis vir Christus gewerk en ook 'n draai in die sepie Villa Rosa gemaak.

Ná Supersterre het Bougas aanvanklik net een CD vrygestel en was hy 'n geruime tyd stil voordat sy derde album, Romeo en Juliet, in 2015 verskyn het. Op die album verskyn onder meer die titelsnit, "Solis vir Christus", "7 dae sonder jou", "Minka", "Die een vir my", "Kom saam met my", "My hart is waar my huis is" en "Daarom", asook "Hartsoldaat", wat sy eerste treffer was. Dit bevat twee duette – "My only true love" saam met Moniqe Foxx en "Sing in harmonie" saam met Sanet Lambrechts – en verwerkings van Sarah McLachlan se "Angel", Kurt Darren se "Jy's my engel", "Houtkruis" en Michael W. Smith se aanbiddingslied "Agnus Dei", waarop Johan C. Venter, Nadia van der Westhuizen en die Magaliesberg-kinderkoor saam met hom sing. 'n Musiekvideo is vir die snit "Een soen om te sê hallo" vervaardig. Maroela Media se resensent het opgemerk dat Bougas se musiek toenemend in 'n Christelike rigting neig sonder dat hy hom uitsluitlik daarop toespits, en dat hy as kunstenaar aansienlik gegroei het.

As aanbieder van Sing in Harmonie was Bougas betrokke by wat in 2018 as die grootste skolekoorkompetisie in Suid-Afrika beskryf is, en waaraan honderde laer- en hoërskoolkore jaarliks deelgeneem het. Die kompetisie is in 2018 vir die vyfde jaar aangebied en word sedert 2017 deur die FAK as kultuurvennoot ondersteun. Bougas het destyds gesê die kompetisie het daardie jaar geweldig gegroei en 'n nuwe platform vir kore oor die hele land geskep.

In Maart 2019, toe hy as kykNET-aanbieder en programvervaardiger werksaam was, is Bougas en sy vriend Jacques Groenewald in Rio de Janeiro in Brasilië met messe beroof. Die twee was in die stad om 'n musiekvideo te verfilm en het op Dinsdagaand 26 Maart omstreeks 22:00 op die strand by Copacabana gaan stap toe twee mans hulle genader en sigarette gevra het. Die aanvallers het groot messe getrek, hulle gedwing om op die sand te kniel en uiteindelik 'n rugsak met hul selfone en skootrekenaars gevat. Bougas het gesê hulle kon die mans, wat Portugees gepraat het, nie verstaan nie, wat die voorval vir hom besonder beangstigend gemaak het. Dele van die musiekvideo is reeds in New York, Thailand en Mauritius verfilm, maar ná die voorval is niks verder in Rio verfilm nie.

Kleuterzone Stigting en sakemodel Volgens Bougas se ma, Rensche, het hy met die Kleuterzone-kleuterskole begin toe hy nog met sy eerste vrou getroud was, en het die besigheid aanvanklik goed gegroei. Sy het gesê die maatskappy se eerste uitvoerende beampte, 'n vriendin en vertroueling van Bougas, is tydens die Covid-19-pandemie oorlede, waarna sake skeefgeloop het en daar mense was wat 'n verkeerde invloed op hom gehad het.

Teen Februarie 2025 het Kleuterzone volgens sy webwerf meer as 1 200 beleggers en 120 kleuterskole gehad. Die groep het aan beleggers die geleentheid gebied om in bestaande of nuwe skole te belê, met 'n geraamde opbrengs van 38% vir bestaande skole en tot 62% vir nuwe skole. Beleggers moes elk minstens R100 000 belê, en uitbetalings sou maandeliks voor die sewende van elke maand geskied. Bougas was die enigste direkteur van Kleuterzone Operations (Edms.) Bpk. en het ongeveer 120 skoolverwante bankrekeninge, elk aan 'n spesifieke skool toegeken, beheer.

Bewerings en Bougas se reaksie Die maatskappy, wat beleggers hoë opbrengste van tot 62% belowe het, is van die bedryf van 'n moontlike piramideskema beskuldig, met nuwe beleggerfondse wat glo gebruik is om vroeër beleggers te betaal. Die groep se sakemodel is in Februarie 2025 onder die loep geneem nadat Moneyweb vrae oor die volhoubaarheid daarvan gestel het. Die publikasie het bereken dat die 120 skole gesamentlik 'n jaarlikse kontantvloei van tussen R175 miljoen en R284 miljoen sou moes genereer – tussen R121 000 en R197 000 per skool per maand – om aan die beloofde opbrengste te voldoen. Moneyweb het ook aangevoer dat Kleuterzone aandelesertifikate uitgereik het wat op beleggings in maatskappye dui wat nie bestaan nie, waarop die groep geantwoord het dat dit aan tikfoute of klerklike foute tydens die uitreiking van die sertifikate te wyte kan wees.

Bougas het die piramideskemabewerings ontken en in 'n verklaring in Februarie 2025 gesê dat Kleuterzone se inkomste uit skoolfooie en ander aktiwiteite kom, met 'n gestruktureerde proses vir beleggerterugbetalings. In 'n video aan beleggers het hy gesê 'n piramideskema is wanneer beleggers se geld gebruik word om ander beleggers te betaal, terwyl Kleuterzone inkomstebronne soos skoolfonds, projekte en buitekurrikulêre aktiwiteite het. Hy het aangevoer dat elke skool as 'n afsonderlike entiteit met sy eie inkomstestrome, uitgawes, personeel en aktiwiteite funksioneer, dat finansiële state teen einde Maart aan beleggers beskikbaar gestel sou word, en dat beleggers wat terugbetalings versoek op 'n gestruktureerde waglys geplaas sou word terwyl hul aandele aan nuwe of bestaande beleggers verkoop word. Hy het beleggers gevra om rustig te bly en die groep drie tot ses maande te gun om die skole op vol kapasiteit te kry, en gesê niemand sou hul geld verloor nie omdat daar aansienlike bates is wat die beleggings ondersteun. Hy het ook 'n voorval uit sy jeug genoem waar hy op 17 kortstondig in hegtenis was, maar beweer dit was onregverdig en irrelevant vir sy huidige sake. Volgens hom het hy destyds reeds tientalle doodsdreigemente ontvang en sou hy tot die dag van sy dood vir Kleuterzone veg.

In Maart 2025 het Maroela Media 'n oënskynlike mediaverklaring van 'n Gmail-rekening onder Bougas se naam ontvang, wat ook aan ander media gestuur is. Herhaalde pogings om te bevestig dat die skrywe van hom afkomstig is, het onbeantwoord gebly, hoewel Kobus Schoeman, die voormalige uitvoerende hoof van Kleuterzone, gesê het dit klink of Bougas dit kon geskryf het. In die verklaring, wat uit nege punte bestaan het, is ontken dat Bougas herehuise op eilande besit, en is erken dat hy casino's besoek het, dog nie gereeld nie en met fondse wat volgens hom sy eie winste as enigste direkteur van die groep was. Hy het die berigte as 'n smeerveldtog deur Moneyweb bestempel, aangevoer dat die aanvanklike berigte nagenoeg 2 700 gesinne se lewens verwoes het, ontken dat hy dreigende boodskappe gestuur het, en gesê dat foto's van hom wat klaarblyklik in Thailand geneem is meer as 'n jaar oud was. Volgens die verklaring sou meer as 70 van die groep se skole hul deure oophou en was onderhandelinge aan die gang om die groep te verkoop.

Likwidasie Anita Susanna du Plessis (55) van Koster in Noordwes, wat einde Desember 2024 R900 000 vir B-klas aandele ter waarde van R1 miljoen in Kleuterzone betaal het, het op 12 Maart 2025 'n dringende aansoek by die hooggeregshof in Pretoria ingedien om die maatskappy voorlopig te laat likwideer. Sy het aangevoer dat Kleuterzone insolvent is, dat daar onverklaarbare verskille in die maatskappy se finansiële rekords, onreëlmatighede in aandelesertifikate en 'n versuim om ouditeursverslae te verskaf is, en dat die maatskappy by finansiële praktyke betrokke geraak het wat met dié van 'n Ponzi-skema ooreenstem. Sy het die hof ook gevra om 'n forensiese oudit te gelas. Binne dae het nog regsfirmas aangedui dat hul kliënte by die aansoek gevoeg wil word; Mathys Krog, Du Plessis se regsverteenwoordiger, het gesê daar was toe 1 081 beleggers en na sy mening honderde miljoene rande waarvoor nie verantwoording gedoen is nie.

Die hooggeregshof in Pretoria het Kleuterzone Operations (Edms.) Bpk. op 18 Maart 2025 voorlopig gelikwideer. Regter Sulet Potterill het die bevel onbestrede toegestaan nadat nóg Bougas nóg enige regspan of personeel van die groep by die hof opgedaag het, en 'n keerdatum van 14 Mei bepaal. Twee bykomende krediteure, Mishka Naidoo en Sesheni Nadesan Howes, wat tussen hulle R1,2 miljoen belê het, is dieselfde dag as applikante tot die saak gevoeg. Volgens hul aansoek het Kleuterzone minstens 1 300 beleggers gehad en was die maatskappy se finansiële verpligting nie minder as R130 miljoen nie. Hulle het aangevoer dat die hele skema waardeur Bougas beleggings gelok het die karaktereienskappe van 'n tipiese Ponzi-skema toon, en dat sy vertrek na Thailand – 'n land sonder 'n uitleweringsooreenkoms met Suid-Afrika – die indruk skep dat hy nie gevind wil word nie, soortgelyk aan die geval van Mirror Trading International se hoof, Johann Steynberg, wat na Brasilië gevlug het. Adv. Zjaan Schoeman, namens Du Plessis, het aan die hof gesê die uitvoerende hoof het bedank, niemand kon die stigter opspoor nie en die maatskappy was 'n skip sonder 'n kaptein; sy het verder betoog dat Kleuterzone reeds kommersieel insolvent was en as 'n private maatskappy met Bougas as enigste direkteur nie wettiglik gemagtig was om aandele aan die publiek te verkoop nie. Altesaam twee Kleuterzone-maatskappye, Kleuterzone Operations en KZ Ventures, is in dié stadium voorlopig gelikwideer. Kleuterzone Operations is in Mei 2025 finaal gelikwideer.

Sekwestrasie en beweerde wanbesteding van fondse Rikus Hartman, wat as tydelike likwidateur van Kleuterzone aangestel is, het die hooggeregshof in Pretoria op 'n dringende basis met 'n sekwestrasie-aansoek genader; besonderhede daarvan het op 2 April 2025 aan die lig gekom. In sy eedsverklaring het hy gesê Kleuterzone se bankstate by Absa, FNB en Nedbank toon dat Bougas, wat meestal alleenbeheer oor betalings uitgeoefen het, skoolgeld wanaangewend het om onder meer luukse vakansies in Dubai en Thailand vir homself en sy familie te betaal, waaronder een verblyf van ses maande in Thailand. Volgens die verklaring het hy tien luukse voertuie aangeskaf wat almal op sy naam geregistreer was maar deur verskeie familielede gebruik is, en is Kleuterzone-fondse na sakerekeninge gestuur van skole wat nie bestaan nie, maar onder sy direkte beheer was. Sy persoonlike rekeningstate het getoon dat hy in die voorafgaande vier tot ses maande sowat R3,7 miljoen na sy persoonlike rekening oorgeplaas het, nagenoeg R10 miljoen by die Winners Circle uitgedobbel het en sowat R769 000 aan reis- en verblyfkoste bestee het. Drie bedrae van R25 000 elk is op 22 Februarie 2025 na sy persoonlike rekeninge oorgeplaas, waarna hy kort daarna na Thailand gereis het. Hartman het verder aangevoer dat fondse moontlik na buitelandse rekeninge in onder meer Thailand, Bali en Dubai oorgeplaas is, en dat Bougas verskeie eiendomme en roerende bates onder die name van familie en vriende of maatskappye waarvan hy die alleendirekteur is, versteek het.